Sarah se verlowing is ’n week voor die beplande huweliksdatum verbreek. Sy was hartseer en teleurgesteld, tog wou sy nie die kos vir die onthaal vermors nie. Sy het die reëlings vir die feesmaal verander deur die geskenketafel te verwyder, die gastelys aan te pas en die inwoners van die plaaslike skuilings vir haweloses uit te nooi.

Jesus, ’n voorstander van hierdie tipe gasvryheid, het aan die Fariseërs gesê: “Nee, as jy ’n feesmaal gee, nooi dan armes, kreupeles, verlamdes en blindes. Jy kan jou gelukkig ag …” want God sal die gasheer seën omdat die gaste nie in staat was om hom te vergoed nie. Dit het Jesus se goedkeuring weggedra dat mense wat nie donasies kan gee, vrolike geselskap of sosiale bande kan bied nie, gehelp word.

As ons daaraan dink dat Jesus dié dinge aan die etenstafel van ’n Fariseër gesê het, lyk Sy boodskap konfronterend en radikaal. Ware liefde ís egter ingrypend. Die liefde word gedefinieer as om in ander se behoeftes te voorsien sonder om iets terug te verwag. Dit is hoe Jesus óns liefgehad het. Hy het ons innerlike armoede gesien en daarop geantwoord deur Sy lewe vir ons te gee.

Om Christus persoonlik te ken is ’n reis binne-in Sy oneindige liefde. Ons is almal uitgenooi om te ontdek “hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek” (Ef. 3:18).