Terwyl ons ’n entjie gaan stap het, het ek en my vriendin gesels oor ons liefde vir die Bybel. Sy het my verras toe sy sê: “Ek hou nie veel van die Ou Testament nie … te veel moeilike goed om te verstaan en al die wraak – gee my Jesus!”

Wanneer ons ’n boek soos Nahum lees, stem ons dalk saam met haar. Dalk deins ons terug weens ’n verklaring soos: “… Die Here wreek Hom in sy gloeiende toorn, die Here wreek Hom op sy teëstanders, sy toorn ontvlam …” (Nah. 1:2). En tog herstel die volgende vers ons hoop: “Die Here is lankmoedig, maar sy krag is groot …” (vs. 3).

Wanneer ons dieper delf om God se toorn beter te verstaan, begin ons begryp dat wanneer Hy dit toepas, doen Hy dit om Sy mense of Sy Naam te verdedig. Op grond van Sy oorvloedige liefde wil Hy die reg ná die sonde, asook die redding van dié wat weggedraai het van Hom af, herstel. Ons sien dit nie net in die Ou Testament wanneer Hy Sy mense na Hom terugroep nie, maar ook in die Nuwe Testament wanneer Hy Sy Seun as ’n offer vir ons sonde stuur.

Ons verstaan dalk nie die geheimenisse van God se karakter nie, maar ons kan op Hom vertrou om, as die bron van alle liefde, die reg uit te oefen. Ons hoef Hom nie te vrees nie, want Hy “is goed, Hy is ’n toevlug in die tyd van nood, Hy sorg vir dié wat by Hom skuil” (vs. 7).