’n Wyse vriend het my aangeraai om in enige argument uitdrukkings soos “jy doen dit altyd” of “jy doen dit nooit nie” te vermy – veral wat my gesin betref. Hoe maklik is dit nie om die mense om ons te kritiseer en liefdeloos op te tree teenoor dié vir wie ons lief is nie! Tog is daar nooit enige verandering aan God se ewige liefde vir ons almal nie.

Psalm 145 bruis van die woord almal. “Die Here is vir almal goed en barmhartig oor alles wat Hy geskep het” (vs. 9). “Die Here help almal op wat geval het. Hy ondersteun dié wat bedruk is … Die Here is regverdig in al sy handelinge, getrou in alles wat Hy doen … Die Here beskerm almal wat Hom liefhet …” (vv. 14, 17, 20).

Ons word telkemale in die psalms daaraan herinner dat God se liefde geen perke of gunstelinge het nie. Die Nuwe Testament verkondig dat Jesus die grootste uitdrukking daarvan is. “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê” (Johannes 3:16).

Psalm 145 verklaar: “Die Here is naby almal wat Hom aanroep, almal wat Hom in opregtheid aanroep. Aan dié wat Hom dien, gee Hy wat hulle vra, Hy hoor as hulle om hulp roep, en Hy red hulle” (vv. 18–19).

God se liefde vir ons is ewigdurend – dit laat ons nooit in die steek nie!