My vriendin, Edith, was min besorg oor geloof. Tog het sy een Sondag-oggend, op soek na iets om haar worstelende siel te bevredig, besluit om na ’n kerk naby aan haar woonstel te stap. Die teks vir die dag was Lukas 15:1–2. “Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: ‘Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.’ ”

Dit is wat die skrifgedeelte gesê het. Maar wat Edith gehoor het was: “Hierdie man ontvang sondaars en Edith met hulle.” Sy het skielik regop in haar bank gesit! Alhoewel sy later haar fout agtergekom het, het die gedagte dat Jesus sondaars verwelkom – en dit het Edith ingesluit – by haar gebly. Daardie middag het sy besluit om na Jesus te draai en na Hom te luister. Sy het begin om die Evangelies te lees en het spoedig besluit om haar geloof in Hom te stel en Hom te volg.

Die godsdienstiges in Jesus se tyd was verontwaardig oor die feit dat Hy saam met sondaars geëet en gedrink het. Hulle reëls het sulke assosiasies verbied. Jesus het egter geen ag op hulle opgemaakte reëls geslaan nie. Hy het die uitgeworpenes verwelkom en saam met hulle vergader, ongeag hulle toestand.

Dit is steeds waar dat Jesus sondaars en (jou naam) ontvang.