Toe ek negentien jaar oud was, het een van my beste vriende verongeluk. Ek was vir lank daarna in droefheid gedompel. Die pyn om iemand so wonderlik en so jonk te verloor, het my visie verduister, soveel so dat ek nie eens bewus was van wat om my aangaan nie. Ek was so deur my droefheid verblind dat ek nie eens God kon raaksien nie.

In Lukas 24 lees ons van twee van Jesus se volgelinge wat na Sy dood so verward en bedroef was dat hulle nie eens besef het dat dit die opgestane Meester is wat saam met hulle gestap het nie, al was Hy besig om uit die skrif aan hulle te verduidelik hoekom die beloofde Verlosser moes sterf en opstaan. Eers nadat Hy later brood geneem en dit gebreek het, het hulle Hom herken (vv. 30–31). Alhoewel Jesus se volgelinge self deur die dood in die gesig gestaar was toe Jesus gekruisig is, het God deur Jesus se opstanding getoon hoe om weer te hoop.

Soos daardie volgelinge mag ook ons dalk deur verwarring en smart ontmoedig voel. Maar ons kan hoop en vertroosting daarin vind dat Jesus leef en aan die werk is in hierdie wêreld – en in ons. Alhoewel ons steeds met hartseer en pyn te doen mag kry, kan ons Jesus vra om saam met ons in tye van smart te stap. As Lig van die wêreld (Johannes 8:12), kan Hy die mistigheid van smart deur strale van hoop vervang.