My kinders het onlangs ontdek dat ’n swerm bye op ons voorstoep ingetrek het. Gewapen met die nodige insekdoder het ek die stryd teen die bye aangesê.

Die bye het my gesteek. Vyf keer.

Ek hou nie daarvan om deur insekte gesteek te word nie. Maar eerder ek as my vrou of kinders. Om na my gesin se welstand om te sien is buitendien bo-aan my werksbeskrywing. My kinders het ’n probleem raakgesien en my gevra om dit aan te spreek. Hulle het my vertrou om hulle teen iets waarvoor hulle bang was te beskerm.

In Matteus 7 leer Jesus ons om ons nood na God te bring (vs. 7). Om dit te illustreer hou Jesus ’n gevalle-studie in karakter voor: “Watter mens onder julle sal vir sy seun ’n klip gee as hy brood vra, of ’n slang as hy ’n vis vra” (vv. 9–10). Alhoewel die antwoord vir liefdevolle ouers voor die hand liggend is, verstrek Jesus self die antwoord en beklemtoon Hy dat ons nie geloof in ons Vader se oorvloedige goedheid moet verloor nie: “As julle wat sleg is dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemel is goeie gawes gee aan die wat dit van Hom vra?” (vs. 11).

Ek kan my nie voorstel om my kinders meer lief te hê nie. Maar Jesus verseker ons dat selfs die beste aardse vader se liefde deur God se liefde vir ons oorskadu word.