’n Kaartjie op die lessenaar in my hotelkamer het soos volg gelees:

Welkom. Ons bede is dat u ’n rustige verblyf sal geniet en dat u reise vrugbaar sal wees. Mag die Here u seën en beskerm en Sy aangesig oor u laat skyn.

Omdat ek meer omtrent die maatskappy se kultuur, vastigheid en waardes wou oplees, het ek hulle web-tuiste nageslaan. Dit was duidelik dat hulle na oortreflikheid en die uitleef van hulle geloof in die werkplek streef.

Die maatskappy se filosofie het my aan Petrus se woorde aan Jesus se volgelinge, wat deur Klein-Asië versprei was, herinner. Hy het hulle aangemoedig om hulle geloof in Christus in hulle gemeenskap, te midde van dreigende vervolging, te demonstreer. Petrus het gesê hulle moet nie bang wees nie en dat daar in hulle harte “net heilige eerbied vir Christus die Here [moet wees]. Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe. Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God” (1 Petrus 3:15-16).

Een van my vriende noem dit ’n “leefwyse wat ’n verduideliking eis.” Ongeag waar ons leef of werk, mag ons vandag in die krag van God ons geloof uitleef – altyd gereed om met sagmoedigheid en respek ’n antwoord te verstrek aan enigeen wat na die rede vir ons hoop vra.