Om ’n spesiale geleentheid te vier, het my man my na ’n plaaslike kunsgalery geneem en my genooi om ’n skildery as geskenk uit te soek. My keuse het op ’n klein toneeltjie van ’n stroompie, wat deur ’n woud vloei, geval. Die stroom het die grootste deel van die doek bedek en die enigste manier om die ligging van die son, die boomtoppe en die wasige atmosfeer te sien, was om na die weerkaatsing op die water te kyk.

In geestelike sin is Jesus soos ’n stroom. As ons God wil ondervind, kyk ons na Jesus. Die skrywer van Hebreërs het gesê Hy is “die ewebeeld van die wese van God” (1:3). Alhoewel die Bybel ons waarhede omtrent God leer, byvoorbeeld “God is liefde,” kan ons ons begrip van God verdiep deur na die wyse waarop Hy soortgelyke probleme as dié wat ons op aarde mag ondervind, sou benader, te kyk. Jesus het aan ons getoon hoe om God in menslike gestalte te wees.

In versoeking het Jesus God se heiligheid openbaar. In tye van geestelike donkerte het Hy God se gesag gedemonstreer. In Sy worsteling met menslike probleme het Hy God se wysheid aan ons getoon. In Sy dood het Hy God se liefde geïllustreer. Alhoewel ons nie alles van God kan verstaan nie – Hy is immers onbegrens terwyl ons beperk is in ons denke – kan ons seker wees van Sy karakter as ons na Jesus kyk.