Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. 2 Korintiërs 3:18
Toe my kleindogter Sarah baie jonk was, het sy aan my verduidelik wat gebeur as mens doodgaan: “Net mens se gesig gaan hemel toe, nie jou liggaam nie. Jy kry ’n nuwe liggaam, maar hou dieselfde gesig.”
Sarah se konsep van ons ewigheidstoestand was net ’n kind se begrip, maar sy het ’n wesenlike waarheid verstaan. Tot ’n mate is ons gesigte ’n sigbare weerkaatsing van ons onsigbare siele.
My ma het gesê ’n toornige uitdrukking mag dalk eendag op my gesig vries. Sy was wyser as wat sy besef het. ’n Bekommerde frons, ’n kwaai trek om die mond, ’n sluwe kyk in die oë, mag dalk ’n ongelukkige siel verraai. Andersins, vriendelike oë, ’n sagte blik,’n gul en vriendelike glimlag – ten spyte van plooie, vlekke en ander gebreke – word die kenmerke van innerlike verandering.
Ons kan nie veel doen aan die gesig waarmee ons gebore is nie, maar ons kan iets doen aan die mens wat ons word. Ons kan bid vir nederigheid, geduld, vriendelikheid, verdraagsaamheid, dankbaarheid, vergiffenis, vrede en liefde (Galasiërs 5 22-23).
Deur God se genade, en in Sy tyd, laat ek en jy groei na ’n innerlike ooreenkoms met ons Here, ’n ewebeeld wat wys in ’n sagte, ou gesig. Soos die Engelse digter John Donne (1572 – 1631) van ouderdom gesê het: “mooiste op die laatste dae.”