My vriendin se vyfjarige dogter, Maija, hou daarvan om poppe van verskillende speelstelle met mekaar om te ruil om sodoende nuwe gemeenskappe te skep. Sy glo dat die poppe op hulle gelukkigste is wanneer hulle saam is, ongeag hulle verskillende groottes en fatsoene.
Dit herinner my aan God se doel vir die kerk. Lukas vertel vir ons dat daar op Pinksterdag “godsdienstige Jode uit al die nasies onder die son in Jerusalem gewoon [het]” (Hand. 2:5). Alhoewel hierdie mense uit verskillende kulture afkomstig was en verskillende tale gepraat het, het die Heilige Gees se aankoms hulle in ’n nuwe gemeenskap verander: die kerk. Van toe af sou hulle as een liggaam beskou word, saamgebind deur die dood en opstanding van Jesus.
Die leiers van hierdie nuwe liggaam was ’n groepie mans wat deur Jesus tydens Sy lewe op aarde bymekaar gebring en verenig is – Sy dissipels. Nou het meer mense – “omtrent drie duisend” (2:41) – volgelinge van Jesus geword. Te danke aan die Heilige Gees was hierdie eens verdeelde groep nou almal “eensgesind” (vs. 44) en het hulle alles met mekaar gedeel.
Die Heilige Gees gaan steeds voort om die gapings tussen menslike groepe te oorbrug. Ons mag dalk nie met almal oor die weg kom of mekaar verstaan nie, maar as gelowiges in Christus hoort ons bymekaar.