Alhoewel ek in my stryd met chroniese pyn op God vertrou, kan selfs die geringste terugslag soms voel soos ’n hewige vyandige aanval. Dan voel dit of ek kan hardloop en iewers gaan wegkruip. Maar aangesien ek nie my pyn kan ontsnap, my omstandighede kan verander, of my emosies kan ignoreer nie, leer ek om op God te vertrou om my enduit te dra.

Wanneer ek aanmoediging, vertroosting en moed nodig het, lees ek biddend deur die liedere van die Psalmskrywers wat hulle omstandighede in eerlikheid na God gebring het. Een van my gunsteling Psalms is die een waar koning Dawid wegvlug van sy seun Absalom wat hom wou vermoor en sy koningskap oorneem. Alhoewel Dawid sy pynlike omstandighede betreur het (Ps. 3:1-2), het hy God vertrou vir beskerming en vir die verhoring van sy gebede (vv. 3-4). Bekommernis of vrees oor wat moontlik kan gebeur het die Koning nie slapelose nagte besorg nie, want hy het God vertrou om hom te beskerm (vv. 5-8).

Fisiese en emosionele pyn kan dikwels soos aggressiewe opponente voel. Wanneer ons moeg is en nie die einde van ons huidige stryd kan sien nie, kan ons selfs in die versoeking kom om tou op te gooi of te wens dat ons kan ontsnap. Maar soos Dawid kan ons leer om God te vertrou om ons staande te hou en ons te help om in Sy ewige liefdevolle teenwoordigheid te rus.