Rima, ’n Siriese vrou wat na die VSA verhuis het, het met gebaretaal en gebroke Engels aan haar dosent verduidelik hoekom sy omgekrap is. Trane het oor haar wange geloop terwyl sy ’n pragtig gerangskikte vleisbord, ’n fatayer (vleis, kaas en spinasie-tertjies) voor haar vashou. “Een man,” het sy gesê terwyl sy na die deur wys. Die dosent kon aflei dat ’n kerkafvaardiging veronderstel was om Rima en haar familie met ’n besoek en geskenke te verwelkom. Maar slegs een man het opgedaag. Hy het net haastig ingeloer, ’n kartondoos met ’n paar artikels daarin neergesit, en dadelik weer vertrek. Hy wou net gou ’n verpligting afhandel terwyl sy en haar familie graag hulle fatayer wou deel.

Jesus se hele doel op aarde was om tyd aan mense af te staan. Hy het maaltye bygewoon, skares geleer en tyd saam met individue spandeer. Hy het tot homself uitgenooi na ’n man se huis. Saggeus, die hooftollenaar, het in ’n boom geklim om Jesus te sien. Toe Jesus opkyk, sê Hy: “Kom af want Ek moet vandag in jou huis tuisgaan” (Luk. 19:1-9). Hiermee is Saggeus se lewe totaal verander.

As gevolg van ons verpligtinge is dit nie altyd moontlik om tyd af te staan nie. Maar indien wel, ervaar ons die wonderlike voorreg om saam met ander te wees en te ervaar en te ondervind hoedat die Here deur ons werk.