Toe hulle nog kinders was, het my vriend se broer sy suster oortuig dat ’n sambreel genoeg stygkrag het om haar op te hou as sy maar net “glo.” “In die geloof” spring sy toe van die skuur se dak af en val haar bewusteloos.

Wat God belowe het, dit sal Hy doen. Maar ons moet seker maak dat wanneer ons na die vervulling van een van God se beloftes vra, ons inderdaad op Sy werklike woord staan, want slegs dan het ons die versekering dat God sal doen of skenk dit wat Hy belowe het. Geloof het op sigself geen krag nie. Dit is slegs ter sprake wanneer dit op ’n duidelike en ondubbelsinnige belofte van God steun. Enigiets anders is blote wensdenkery.

Dink hieroor: God het belowe “… vra dan wat julle wil hê, en julle sal dit kry. My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra” (Joh. 15:7-8). Hierdie verse is beslis nie ’n belofte dat God elke gebed sal verhoor nie, maar eerder ’n belofte dat hy op elke verlange na persoonlike geregtigheid – wat Paulus “die vrugte van die Gees” noem (Gal. 5:22-23) – sal reageer. As ons ’n honger en dors het na heiligheid en God daarvoor vra, sal Hy verhoor. Dit sal tyd neem want geestelike groei neem tyd. Moenie moed verloor nie. Vra gedurig dat God jou sal heilig. In Sy tyd en teen Sy pas “sal julle dit kry.” God maak nie leë beloftes nie.