Lygon Stevens was lief om saam met haar broer, Nick, berg te klim. Hulle was ervare klimmers wat reeds Mt. McKinley (Denali), die hoogste bergspits in Noord Amerika, bereik het. Maar in Januarie 2008 was hulle deur ’n sneeustorting op ’n berg in Colorado oorval. Die twintigjarige Lygon het dit nie oorleef nie. Nick het later sy suster se dagboek in een van haar rugsak se sysakkies gevind. Lygon se aantekeninge daarin het hom baie vertroos. Dit was gevul met bepeinsings, gebede en lof aan God. Sy het geskryf: “Ek is ’n kunswerk onderteken deur God. Maar Hy is nog nie klaar nie, inteendeel, Hy het nou maar net begin … God se vingerafdruk is op my. Nooit weer sal daar ’n ander persoon soos ek wees nie … Ek het ’n taak om in hierdie lewe te verrig wat geen ander kan doen nie.”

Alhoewel Lygon fisies nie meer op die aarde is nie, word ander steeds deur die nalatenskap van haar lewe en haar dagboek geïnspireer en uitgedaag.

Omdat ons na God se beeld geskape is (Gen. 1:26), is elke persoon ’n kunswerk, onderteken deur God. Soos die apostel Paulus dit stel: “God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewens te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het” (Ef. 2:10).

Prys God dat Hy elkeen van ons gebruik om ander te help soos en wanneer Hy dit goedvind.