Tydens ’n onlangse besoek van my dogter en eenjarige kleinseun, moes ek ’n paar aflewerings gaan doen. My kleinseun het skielik begin huil toe ek vir my eerste aflewering moes vertrek. Dit het tweekeer gebeur. Ek het elke keer omgedraai en dan vir ’n paar oomblikke aan hom aandag gegee. Met my derde aflewering het sy lip weer begin bewe toe ek op die punt staan om te vertrek . Dit is toe dat my dogter my konfronteer en vra hoekom ek hom nie maar saam met my neem nie.

Enige grootouer sal kan bevestig wat toe gebeur het. My kleinseun het saam met my gery – net omdat ek hom liefhet.

Hoe wonderlik is dit om te weet dat ons hartsverlange na God ook met liefde beantwoord word. In 1 Johannes 4:16 staan daar: “En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.” God het ons nie lief omdat ons iets gedoen het of nie gedoen het nie. Sy liefde is nie gebaseer op ons waardigheid of verdienstelikheid nie, maar op Sy goedheid en getrouheid. As die wêreld om ons liefdeloos en onvriendelik is, kan ons op God se onveranderde liefde vertrou as ons bron van hoop en vrede.

Deur die kosbare geskenk van Sy Seun en Sy Gees het ons hemelse Vader Sy ontsettende liefde aan ons getoon. Hoe gerusstellend is die versekering dat God ons werklik liefhet met ’n nimmereindigende liefde.