Ek het een middag twee ure by die kunsuitstalling: Die vader en sy twee seuns – die kuns van vergifnis, deurgebring. Al die stukke het gefokus op Jesus se gelykenis van die verlore seun (Luk. 15:11-32). Edward Rojas se skildery van Die verlore seun het veral sterk tot my gespreek. Dit beeld die eens wederstrewige seun se tuiskoms uit. Sy klere is verslete en sy kop hang. Agter hom lê ’n landskap van verganklikheid, maar hy betree ’n pad waarop sy pa reeds na hom toe aangehardloop kom. Onderaan die skildery staan Jesus se woorde: “Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry” (vs. 20).
Ek was diep geraak toe ek weereens besef hoe God se onveranderlike liefde my lewe verander het. Toe ek Hom verlaat het, het Hy nie Sy rug op my gedraai nie, maar steeds bly tuur, kyk en wag. Sy liefde is onverdiend maar onveranderlik; ons verontagsaam dit dikwels, en tog trek Hy dit nie terug nie.
Ons is almal skuldig, tog reik ons hemelse Vader uit om ons te verwelkom – nes die vader sy wederstrewige seun omhels het. “… [L]aat ons eet en feesvier!” het die pa sy werksmense beveel. “Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry” (vv. 23-24).
Die Here juig steeds oor elkeen wat vandag na Hom toe terugkeer! Om dié rede kan ons fees vier!