“Waarvandaan kom jy?” Ons vra dikwels dié vraag wanneer ons iemand beter wil leer ken. Tog is die antwoord vir baie van ons gekompliseerd. Soms wíl ons nie al die fyner detail deel nie.

Jefta sou dalk glad nie die vraag wou beantwoord nie. Sy halfbroers het hom juis oor sy verdagte herkoms uit sy tuisdorp Gilead weggejaag, want “… [J]y is die kind van ’n ander vrou” (Rig. 11:2). Vers 1 sê prontuit: “Sy ma was ’n prostituut.”

Jefta was egter ’n gebore leier, en toe ’n vyandige stam teen Gilead optrek, wou die mense wat hom weggejaag het, hom skielik terughê. “Kom word ons aanvoerder …” (vs. 6), het hulle gevra. Jefta het hulle geantwoord: “Julle het my gehaat. Julle het my weggejaag uit my pa se huis uit …” (vs. 7). Nadat hulle hom verseker het dat alles voortaan anders sou wees, het hy ingestem om hulle te lei. Ons lees verder: “Toe het die Gees van die Here op Jefta gekom …” (vs. 29). Op grond van sy geloof het hy hulle na ’n grootse oorwinning gelei. Sy naam word ook in die heldelys wat in die Nuwe Testament voorkom, genoem (Heb. 11:32).

Dit lyk so dikwels asof God die hoogs onwaarskynlike mense in sy diens gebruik, nie waar nie? Dit maak nie saak waar ons vandaan kom, hoe ons daar gekom of wat ons gedoen het nie. Wat wel saak maak, is dat ons met geloof op Sy liefde antwoord.