Die agtienjarige Sammy se familie het hom verwerp toe hy Jesus as sy Verlosser aangeneem het. Hulle was tradisioneel van ’n ander geloof. Die Christengemeenskap het hom verwelkom, bemoedig en finansiële hulp vir sy opleiding aangebied. Sy getuienis is later in ’n tydskrif gepubliseer, waarop sy vervolging verskerp is.

Sammy het steeds sy familie besoek en met sy pa gepraat, selfs al het sy sibbes hom verhoed om saam familiegeleenthede te vier. Toe sy pa siek word, het Sammy hom nie aan die minagting gesteur nie. Hy het sy pa versorg en gebid dat hy weer gesond word. God het sy pa genees, en die familie het begin ontdooi. Mettertyd het sy liefdevolle getuienis hul harte versag en was van sy familielede gewillig om van Jesus te hoor.

Wanneer ons Christus volg, kan ons probleme verwag: “Dit is genade as iemand die pyn van onverdiende lyding verduur omdat hy aan God getrou wil wees” (1 Pet. 2:19), skryf Petrus. Wanneer ons vanweë ons geloof ongemak of lyding verduur, verdra ons dit omdat “Christus self vir [ons] gely en so vir [ons] ’n voorbeeld gestel het, sodat [ons] in sy voetspore kan volg” (vs. 21).

Selfs toe Jesus beledig is, “… het Hy nie terug beledig … gedreig nie, maar alles oorgelaat aan Hom wat regverdig oordeel” (vs. 23). Met Jesus as ons voorbeeld kan ons Hom om krag vra om aan te gaan.