Toe Ashley Liew, ’n Singapoerse naelloper, hom tydens ’n maraton by die Suidoos-Asiese Spele vooraan die groep bevind, het hy gou besef dat die voorste naellopers ’n verkeerde afdraai gevat het en nou agter was. Ashley kon voordeel getrek het uit hulle fout, maar ’n sterk gees van sportmanskap het hom oortuig dat dit nie ’n ware oorwinning sou wees nie. Hy wou wen omdat hy vinniger was, nie omdat dié wat voor hom was ’n fout gemaak het nie. Hy het stadiger gehardloop sodat hulle hom kon inhaal.

Ashley het die wedloop verloor en ’n medalje verbeur. Hy het egter die harte van sy landgenote gewen, asook ’n internasionale toekenning vir sy eerlike spel. Dít getuig van sy geloof as ’n Christen, en iemand moet sekerlik gevra het: “Waarom het hy dit gedoen?”

Ashley se optrede daag my uit om my geloof deur my dade te verkondig. Omgee, vriendelikheid of vergifnis kan God verheerlik. Soos Paulus sê: “In alles moet jy … ’n voorbeeld stel van goeie werk, suiwerheid … waardigheid … gesonde en onaanvegbare prediking” (Tit. 2:7-8).

Ons positiewe optrede teenoor ander kan aan die wêreld wys dat ons anders kan lewe, danksy die Heilige Gees se werk in ons. Hy gee ons die genade om goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verwerp, met opregtheid te lewe en vir ander die pad na God toe aan te dui.