Party mense hou van bitter sjokolade terwyl ander die soetes verkies. Die antieke Majane van Sentraal-Amerika het sjokolade as ’n drankie geniet en dit met brandrissies gegeur. Hulle het baie van die “bitter water” gehou. Vele jare later het dit in Spanje bekend geword, maar die Spanjaarde het soet sjokolade verkies en suiker en heuning bygevoeg om die natuurlike bitterheid teen te werk.
Ons dae kan ook bitter of soet wees. ’n Sewentiende-eeuse Franse monnik, broer Lawrence, het geskryf: “As ons maar geweet het hoe lief God ons het, sou ons altyd gereed gewees het om die soet en die bitter in gelyke mate uit Sy hand te ontvang.” Om soet en sout in gelyke mate te ontvang? Dis moeilik! Waarvan praat broer Lawrence tog? God se karakter is die sleutel. Die psalmis sê: “U is goed en U doen goed; leer my u voorskrifte” (Ps. 119:68).
Die Majane het die bitter sjokolade ook om die helende en medisinale eienskappe daarvan hooggeag. Ons bitter dae kan ook waarde hê. Dit maak ons bewus van ons swakhede en help ons om meer op God te vertrou. Die psalmis skryf: “Dit is vir my goed dat ek swaargekry het, want daardeur het ek u voorskrifte geleer” (vs. 71). Ons kan die lewe met sy verskillende geure vandag aangryp omdat ons verseker is van God se goedheid: “U het aan my goed gedoen, Here, soos U beloof het” (vs. 65).