Susannah Cibber het in die agtiende eeu ’n beroemde sangeres geword. Sy was egter ook welbekend om haar skandalige huweliksprobleme. Toe Händel se Messias dus die eerste keer in April 1742 in Dublin uitgevoer is, het baie mense in die gehoor nie haar rol as die hoofsolis goedgekeur nie.

Gedurende die opening het Cibber oor die Messias gesing: “Hy was verag en deur die mense verstoot, ’n man van lyding wat pyn geken het …” (Jes. 53:3). Daardie woorde het die predikant, Patrick Delany, so ontroer dat hy opgespring en gesê het: “Vrou, dit is om dié rede dat al jou sondes jou vergewe word!”

Die verband tussen Susannah Cibber en die tema van Händel se Messias is duidelik. Die “man van smarte” – Jesus die Messias – was verag en verstoot vanweë sonde. Die profeet Jesaja het gesê: “My dienaar, die regverdige, sal baie mense regverdig maak: hy sal die straf vir hulle sonde dra” (vs. 11).

Die verband tussen die Messias en ons is ewe duidelik. Dit is nodig dat almal van ons ons sonde bely en God se vergifnis ontvang, ongeag of ons ons by die veroordelende gehoor, by Susannah Cibber, of iewers tussenin bevind. Jesus het deur Sy lewe, dood en opstanding ons verhouding met God ons Vader herstel.

Hiérvoor – vir alles wat Jesus gedoen het – word ons sondes vergewe.