My seun Xavier was ses jaar oud toe ’n vriendin en haar seuntjie eendag vir ons kom kuier. Ek was bly toe ek sien hoe mededeelsaam my seun met sy speelgoed is – totdat hy ’n speelding waarvan ek weet my man baie lank na gesoek het, aanbied. My vriendin het die speelding herken en wou keer. Xavier het egter sonder om te huiwer die speelding in die seuntjie se hande geplaas.
Vergeleke met Xavier se mededeelsaamheid, moet ek erken dat ek baie maal my besittings van God en ander weerhou. Maar as ek onthou dat alles wat ek besit deur my hemelse Vader aan my geskenk is, dan is dit makliker om te deel.
God het die Israeliete beveel om Hom te vertrou deur ’n gedeelte van alles wat Hy voorsien het, aan die priesters, wat op hulle beurt weer ander in nood sou help, af te staan. Toe hulle weier het die profeet Maleagi aan hulle gesê dat hulle die Here beroof (vv. 8-9). Sou hulle egter vrywilliglik gee en daardeur wys dat hulle God vir voorsiening en beskerming vertrou (vv. 10-11), sal ander nasies hulle as God se geseënde volk erken (vs. 12).
Of ons nou ons finansies of die gawes wat God aan ons toevertrou het, bestuur, dit kan ’n daad van toewyding wees. Om vrylik en vrywillig te gee, dui op ons vertroue in die beloftes van ons liefdevolle Vader, die onteenseglike oorvloedige Gewer.