Op pad huis toe na kerk het my dogter op die agter sitplek van die motor gesit en beskuitjies eet. Die ander kinders het gesmeek dat sy met hulle moet deel, maar tevergeefs. Ek vra haar toe wat hulle daardie dag in die Sondagskoolklas gedoen het. Sy het geantwoord dat hulle ’n mandjie met  broodjies en vissies gemaak het, omdat ’n seuntjie ’n mandjie met vyf brode en twee vissies aan Jesus gegee het en Hy meer as 5000 mense daarmee gevoed het ( Joh. 6:1-13).

Ek het genoem dat dit baie goedhartig van die seuntjie was om te deel.Toe probeer ek haar oorreed om nie al die beskuitjies vir haarself te hou nie, maar tevergeefs. Sy was onoortuigbaar. Haar rede was dat daar net nie genoeg vir almal was nie.

Om te deel is moeilik. Dit is makliker om vas te hou aan dit wat ons het. Miskien doen ons die berekening en redeneer dat daar net nie genoeg is vir almal nie. Ons aanvaar dat as ons gee ons self gebrek sal ly.

Paulus herinner ons daaraan dat alles wat ons het van God af kom en dat Hy ons wil verryk sodat ons “by elke geleentheid vrygewig te kan wees” (2 Kor. 9:10-11). Die wiskunde van die hemel is nie ’n berekening van skaarsheid nie, maar van oorvloed. Ons kan met blydskap deel want God belowe dat, as ons met blymoedigheid deel, Hy ook in dieselfde mate vir ons sal sorg.