Hadasah,’n jong Joodse meisie wat ’n denkbeeldige karakter in een van Francine Rivers se boeke ‘A Voice in the Wind’ voorstel, leef gedurig in vrees. Nadat sy as slaaf in ’n Romeinse huishouding aangestel word, vrees sy vervolging weens haar geloof in Christus. Sy weet dat baie Christene al verag is en selfs vir die leeus gegooi is. Sal sy die moed hê om op te staan vir die waarheid wanneer sy getoets word?

Toe haar ergste vrese ’n werklikheid word en sy oor haar geloof gekonfronteer word, het sy twee keuses: verloën haar geloof in Christus of word na die arena geneem. Toe sy kies om haar geloof in Jesus te bely verdwyn alle vrees. Sy word moedig, selfs al staar sy die dood in die gesig.

Die Bybel herinner ons daaraan dat ons soms sal swaarkry as ons doen wat reg is, of dit nou is omdat ons die evangelie verkondig, of omdat ons ’n godvresende lewe lei wat teen vandag se waardes is . Ons word geleer om nie bang te wees nie (1 Pet. 3:14) en om ’n heilige eerbied vir Christus die Here in ons harte te koester (vs. 15). Hadasah se grootste stryd het in haar hart plaasgevind. Toe sy finaal besluit het om Jesus te kies het sy die moed gevind om getrou te wees.

Wanneer ons besluit om Christus te eer, sal Hy ons help om moedig te wees en om ons vrese te midde van teenkanting die hoof te bied.