“Keerslag 4”  (“Parry Four”).

Toe ek met skermoefeninge begin het, moes ek baie mooi na my afrigter luister as hy die korrekte skermposisie vir sy volgende beweging uitroep. Ek moes dus reg wees om te verdedig wanneer hy sy wapen voor hom uitsteek en vorentoe beur om my aan te val.

Hierdie aktiewe luister het my aan die Skrif se oproep tot besliste gehoorsaamheid op die gebied van seksuele versoeking herinner. In 1 Korintiërs 6:18 vermaan Paulus gelowiges wat moontlik in sulke versoekings mag kom om seksuele losbandigheid ten alle koste te vermy. In sulke uitdagende omstandighede moet hulle vas staan ( Gal. 5:1; Ef. 6:11) en daadwerklik luister as die Bybel die beste verdediging uitroep: “Vlug weg!”

Onmiddellike aksie beskerm teen ’n kompromis. Klein toegewings kan tot verwoestende gevolge lei. ’n Onbeteuelde gedagte, ’n vlugtige kyk op die verkeerde plek op die internet, ’n ligte flirtasie terwyl jy reeds getroud is – dit is alles paaie wat ons verkeerdelik wegvoer en afstand plaas tussen ons en God.

As ons van versoeking af wegvlug, voorsien God ook ’n plek waarheen ons kan vlug. Deur Jesus se dood aan die kruis bied Hy vir ons hoop, vergifnis en ’n nuwe begin, ongeag waar ons was of wat ons gedoen het. As ons in ons swakheid na Jesus vlug sal Hy ons vrymaak om in Sy krag te leef.