Ek aanbid tans in ’n kerk wat op ’n groot oop terrein op die eiland van Singapore geleë is. ’n Tyd gelede het mense van oorsee wat in ons land werksaam is, begin om elke Sondag op die kerkgronde vir ’n piekniek bymekaar te kom.
Dit het ’n wye reaksie van die kerkgangers uitgelok en baie het gekla oor die rommel wat die besoekers agterlaat. Ander weer was meer positief en het dit as ’n godgegewe geleentheid gesien om gasvryheid aan vreemdelinge te betoon, sonder dat dit eers nodig was om die kerkgronde te verlaat.
Die Israeliete moes dieselfde twispunte beleef het. Nadat hulle hulle in hulle nuwe land gevestig het, moes hulle worstel met die vraag oor hoe hulle teenoor vreemdes moet optree. Maar God het baie uitdruklik voorgeskryf dat hulle vreemdelinge soos medeburgers moes behandel en liefhê soos hulself (vs. 34). Baie van God se wette het ook uitdruklik van vreemdelinge melding gemaak – hulle moes nie mishandel of verdruk word nie (Eks.23:9) en die volk moes hulle liefhê (Deut. 10:19). Eeue later het Jesus voorgeskryf dat ons dieselfde moet doen – om ons naaste lief te hê soos onsself (Mark. 12:31).
Mag ons God se hart hê om ander soos onsself lief te hê en altyd te onthou dat ons ook net besoekers op die aarde is. Ons was nog altyd soos God se mense liefgehê en behandel.