My vriendin het onlangs besluit om na ’n stad meer as 1000 km van haar tuisdorp te verhuis. Hulle het min tyd gehad om op te pak en het besluit dat haar gade vooruit sou gaan om nuwe verblyf te reël, terwyl sy die pakwerk behartig het. Ek was verstom oor haar vermoë om as’t ware blindelings te kon oppak, sonder dat sy eers haar nuwe tuiste gesien het.

Toe ek haar hierop wys, het sy verduidelik dat, as gevolg van haar jarelange verbintenis met haar eggenoot asook sy kennis van haar voorkeure en behoeftes, sy volle vertroue in sy oordeel en besluite het.

Jesus en Sy dissipels was in die bokamer toe Hy met hulle oor die komende verraad teen Hom en Sy naderende dood gepraat het. Hulle was  bang en hartseer maar Hy het hulle vertroos met die versekering dat Hy gaan om vir hulle’n plek in die hemel voor te berei. Toe Sy dissipels Hom hieroor wou uitvra, het Hy hulle bloot na Sy wonderwerke verwys. Jesus het aan hulle verduidelik dat, alhoewel hulle Sy dood sou betreur en na Hom sou verlang, hulle Hom nietemin kan vertrou om te doen wat Hy belowe het.

Net so kan ons ook op Hom vertrou om ons, te midde van donker en onseker tye in ons lewe, na goeie plekke van vrede te lei. Soos wat ons saam met Hom ons lewenspad betree, kan ons leer om Hom daagliks toenemend te vertrou vir Sy getrouheid.