Soos die meeste mense sukkel ek ook om genoeg oefening te kry.  Toe kry ek iets wat my kan motiveer. ’n Pedometer wat my treë tel. Alhoewel dit maar ’n eenvoudige apparaat is, is dit tog verbasend hoeveel die pedometer my motiveer het. Pleks van kla as ek van die rusbank moet opstaan, sien ek nou selfs geringe takies, soos om vir een van die kinders ’n glas water te gaan haal, as ’n geleentheid om nog ’n paar treë in te kry.

Ek wonder of ’n Christen se lewe nie soms ook so is nie. Omdat daar elke dag geleenthede is om lief te hê en om te dien en om interaksie met mense te hê, beveel Paulus in  Kolossense 4:5 aan dat ons die beste gebruik van elke geleentheid moet maak. Maar is ek altyd bewus van sulke geleenthede? Skenk ek altyd aandag aan kanse om as aanmoediger in oënskynlik alledaagse situasies op te tree? God is werksaam in die lewe van elke persoon wat my pad kruis, van familielede en kollegas by die werk tot by die kassiere in die kruidenierswinkel. Elke interaksie bied aan my die geleentheid om betrokke te raak by wat God mag besig wees om te doen, selfs al is dit iets so gering soos om ’n kelner by ’n restaurant vriendelik te vra hoe dit met hom gaan.

Wie weet hoe God moontlik op daardie oomblikke wil werk as ons voorbereid is op geleenthede wat Hy oor ons pad bring.