Italië se regering en kunsgallery-amptenare het heftig beswaar gemaak toe ’n adverteerder ’n foto van Michelangelo se bekende beeldhouwerk van Dawid verander het. Op die foto het Dawid met ’n geweer, in plaas van ’n slingervel, oor sy skouer gestaan.

In die eerste-eeuse Jerusalem is Dawid as die skaapwagter-liedjieskrywer en soldaat-koning van Israel onthou. Daarbenewens was hy ook die volk se grootste toekomshoop. Profete het voorspel dat Dawid se nageslag die vyande  van Israel finaal sou verslaan. Daarom het die skare toe hulle Jesus eeue later as “die Seun van Dawid” verwelkom, verwag dat Hy die opstand sou lei wat die Romeinse juk sou afgooi. Maar toe keer Jesus die tafels van die geldwisselaars in die tempel om, want Hy wou Sy Vader se huis as die huis van gebed herstel. Israel se leiers was natuurlik briesend. Dit was nie die soort Messias wat hulle gesoek het nie. Toe, sonder dat hulle dit besef, wend hulle hulle tot die Romeinse laksmanne en word die Redder aan ’n kruis vasgespyker.

Jesus kon hulle gestop het, maar het nietemin toegelaat dat Hy aan die kruis verneder word. Slegs deur opstanding uit die dood sou dit bekend word dat die Seun van Dawid Sy vyande met liefde verslaan het en dit aan Sy kinders uit alle nasies opgedra het om die Woord te versprei.