Gedurende ’n filosofie-lesing aan ’n universiteit het ’n student opruiende kommentaar oor die professor se standpunte kwytgeraak. Tot die studente se verbasing het die professor die student bedank en met die volgende besprekingspunt voortgegaan. Toe hy later gevra is waarom hy nie die student geantwoord het nie, het die professor gesê: “Ek beoefen die dissipline om nié die laaste woord te hê nie.”

Hiérdie leermeester het God liefgehad en Hom geëer. Hy wou vanuit ’n nederige gees sy liefde vir God weerspieël. Sy woorde herinner my aan ’n ander onderwyser – die man wat lank gelede die boek Prediker geskryf het. Hy leer ons nie hoe om ’n kwaai persoon te hanteer nie, maar wel om met versigtige treë na die Here te gaan “en te luister”, eerder as om te vinnig vanuit die hart met die mond te reageer. Wanneer ons die Prediker se leiding volg, erken ons dat God die Here is en dat ons Sy handewerk is (Prediker 5:1-2).

Hoe betree jy God se teenwoordigheid? As jy reken jy behoort jou gesindheid aan te pas, waarom spandeer jy nie meer tyd daaraan om oor die majesteit en die grootheid van die Here te besin nie? Wanneer ons oor Sy ewige wysheid, krag en teenwoordigheid nadink, vervul Sy oorvloedige liefde ons met heilige ontsag. Vanuit só ’n nederige houding hoef ook ons nie die laaste woord te hê nie.