Daar was meer liefde as geld tussen ’n jong getroude paartjie. Kersfees was om die draai en elkeen wou ’n geskenk gee wat hul omgee vir mekaar sou bevestig. Op Oukersaand het Della haar hare, wat knielengte was, verkoop om vir Jim se horlosie, wat ’n erfstuk van sy vader en sy oupa was, ’n platinumketting te koop. En Jim het pas sy horlosie verkoop om vir Della ’n duur stel kamme te koop.

Die skrywer van hierdie verhaal: O. Henry, het dit The gift of the Magi genoem. Sy skepping suggereer dat hoewel hul geskenke nutteloos geword het en hulle op Kersoggend belaglik kon voorgekom het, het hul liefde hulle opgehef tot die grootste wysheid bo almal wat geskenke gee.

Die wyse manne van die heel eerste Kersfees kon ook absurd voorgekom het toe hulle in Betlehem opdaag met goud, wierook en mirre (Matt. 2:11). Hulle was nie Jode nie, maar buitestanders – heidene wat nie geweet het hoe hulle die vrede van Jerusalem kon versteur het deur na ’n pasgebore koning van die Jode te verneem nie (vs. 2).

Nes met Jim en Della, het die wyse manne se planne ook nie volgens hul verwagting uitgewerk nie. Wat hulle gegee het, kan geld nie koop nie. Hulle het geskenke gebring, maar toe in aanbidding gebuig voor die Een wat uiteindelik die grootste van alle liefdesoffers vir hulle – én vir ons – sou bring.