Ek het die inkopies in my kar gelaai en versigtig uit my parkeerplek beweeg. Skielik het daar ’n man oor die sypaadjie reg voor my ingehardloop. Hy het my duidelik nie gesien nie. Ek het hard gerem, en hom net-net gemis. Op daardie oomblik het ek besef ek het ’n keuse: ek kon my oë uit frustrasie rol, of ’n glimlag van vergiffenis bied. Ek het geglimlag.
Verligting het oor sy gesig gespoel, en hy het dankbaar teruggeglimlag.
Spreuke 15:13 sê: “Blydskap laat ’n mens se gesig straal; smart maak ’n mens terneergedruk.” Lei die skrywer ons om in elke situasie van onderbreking, teleurstelling en ongerief wat die lewe bring, ’n breë glimlag op te sit? Beslis nie! Daar is tye vir ware droefheid, wanhoop, en selfs woede weens onbillikheid. Maar in ons alledaagse lewens kan ’n glimlag verligting, hoop en die welwillendheid bied wat nodig is om aan te gaan.
Miskien is die punt van die spreuk dat ’n glimlag die natuurlike gevolg is van die toestand van ons innerlike wese. ’n Gelukkige hart is rustig, tevrede en ontvanklik vir God se beste. Met ’n gelukkige hart in ons binneste, kan ons op verrassende omstandighede reageer met ’n spontane glimlag, wat ander nooi om ook die hoop en vrede saam met God te ervaar.