Die suikerbekkie kry sy Engelse naam (hummingbird) van die geluid wat sy vlerkies maak as dit so vinnig klap. In Portugees is dit bekend as die “blomsoener” of die “vlieënde juweel” in Spaans. Een van my gunstelingname vir hierdie voëltjie is biulu, “wat oorbly in die oog” (Meksikaans-Zapotec). Met ander woorde, as jy ’n suikerbekkie sien, sal jy dit nooit vergeet nie.

G.K.Chesterton skryf, “Die wêreld sal nooit gebrek ly aan die behoefte aan wonders nie, maar net aan die behoefte aan verwondering.” Die suikerbekkie is een van die wonders. Wat is so betowerend aan hierdie skepseltjies? Miskien juis dat hulle so klein is (gemiddeld 5 tot 7 cm) of dat die vlerkies tussen 50 tot 200 slae per sekonde klap.

Ons is nie seker wie Psalm 104 geskryf het nie, maar die psalmdigter was beslis bekoor deur die natuurskoon. Na hy van die skepping se wonders beskryf, soos die seders van Libanon en die wilde donkies, sing hy: “Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf,” (vs. 31). En dan bid hy: “Mag hierdie bepeinsinge van my vir Hom aanneemlik wees!” (vs. 34).

Die natuur het baie dinge wat in die ’oog kan oorbly’ vanweë hulle skoonheid en volmaaktheid. Hoe kan ons oor hulle mediteer en God behaag? Ons kan waarneem, ons daarin verheug, en God dank as ons Sy werke aanskou en die wonder daarvan inneem.