Een jaar was ek met Kersfees besig met ’n werksopdrag op ’n plek wat baie van my vriende nie eens op ’n kaart kon opspoor nie. Ek het van my werkplek na my kamer toe gestrompel, gestaal teen die ysige wind wat van die Swartsee af gewaai het. Ek het huis toe verlang.

Tuis het ek die deur oopgemaak op ’n betowerende oomblik. My kunssinnige kamermaat het sy nuutste projek voltooi – ’n 48-cm hoë keramiekkersboom wat die donker kamer verlig het met skitterende kolletjies kleur. Al was dit net vir ’n oomblik, was ek terug by die huis!

Toe Jakob vir sy broer Esau gevlug het, het hy hom ook op ’n vreemde en eensame plek bevind. Aan die slaap op die harde grond het hy God in ’n droom ontmoet. En God het vir Jakob ’n tuiste belowe. “Ek sal die grond waarop jy lê, vir jou en jou nageslag gee,” het Hy gesê. “ … en in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees.” (Gen. 28:13-14).

Uit Jakob, natuurlik, sou die beloofde Messias kom. Die Een wat Sy tuiste verlaat het om ons na Hom toe te bring. “ … kom Ek terug en sal julle na my toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.” (Joh. 14:3)

Daardie Desemberaand het ek in die donkerte van my kamer gesit en na die Kersboom gestaar. Miskien het ek onvermydelik gedink aan die Lig wat na die wêreld gekom het om ons die pad huis toe te wys.