Aan die einde van die Ou Testament lyk dit of God wegkruip. Vir vier eeue het die Jode gewag en gewonder. Dit wou voorkom asof God passief en onbetrokke gestaan het teenoor Sy volk en doof was vir hulle gebede. Net een hoop het oorgebly: die antieke belofte van ’n Messias. Op daardie belofte het die Jode alle hoop geplaas. En toe gebeur iets baie belangriks. Die geboorte van ’n baba word aangekondig.

’n Mens kan die opgewondenheid aanvoel deur net in Lukas te lees van die uitwerking van die gebeurtenis op die mense van daardie tyd. Gebeure rondom Jesus se geboorte kom ooreen met ’n vreugdevolle musiekblyspel. Karakters dring saam op die toneel: ’n grys grootoom (Lukas 1:5-25), ’n verwonderde maagd (1:26-38), en die ou profetes Anna (2:36). Maria self trek los met ’n pragtige gesang (1:46-55). Selfs Jesus se ongebore nefie skop van plesier in sy moeder se skoot. (1:41)

Lukas maak seker dat direkte verwysings gemaak word na die Ou-Testamentiese beloftes van ’n Messias. Die engel Gabriël noem eintlik Johannes die Doper ’n “Elia” wat die pad moes kom voorberei vir die Here. (1:17). Daar was duidelik iets aan die broei op planeet Aarde. Tussen die verslae en verslane bewoners in ’n afgeleë hoekie van die Romeinse Ryk, is iets goeds besig om te gebeur.