Probleme kan ons knorrig en kortaf maak, maar ons mag nooit hierdie slegte gedrag verskoon nie. Dit kan ellende om ons saai. Ons het nie ons plig nagekom tot ons geleer het om vriendelik te wees nie.

Die Nuwe Testament het ’n woord vir die deug wat ons onsmaaklikheid regstel – saggeaardheid, wat ’n goedhartige en minsame siel veronderstel. Efesiërs 4:2 herinner ons “Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.”

Saggeaardheid is om beperkinge en gebreke te aanvaar sonder om ons ergerlikheid op ander uit te haal. Dit wys dankbaarheid vir die kleinste diens gelewer en verdraagsaamheid vir die wat ons nie goed behandel nie. Dit verduur lastige mense – veral raserige, uitbundige mensies, want goedgeaardheid teenoor kinders is ’n belangrike eienskap van ’n goeie en saggeaarde persoon. Dit spreek saggies in die aangesig van uitdagings. Dit kan stil wees; want ’n kalm, bedaarde stilte is gewoonlik die sprekendste antwoord op kwetsende woorde.

Jesus is “sagmoedig en nederig van hart” (Matt. 11:29). As ons Hom vra, sal Hy ons na Sy beeld herskep. Die skrywer George MacDonald sê: “[God] sal nie van [ons] ’n klank aanhoor wat die hart van ’n ander ontstem … of ’n woord wat dit laat pyn nie … Jesus is gebore om ons van sulke en alle ander sondes te verlos.”