Dit was vroeg Saterdagoggend en ek was gretig om by die plaaslike kegelbane uit te kom. Die vorige aand het ek laat gebly om die modderige teëlvloere skoon te maak aangesien die opsigter siek was. Ek het my baas nie ingelig nie, aangesien ek hom wou verras. Wat kan tog verkeerd gaan? het ek gedink.

Baie!

Toe ek instap, sien ek net water, kegels, rolle toiletpapier en bokse telkaarte wat ronddryf. Ek het besef: terwyl ek besig was met die vloere, het ek ’n kraan oop vergeet! Wonder bo wonder het my baas my met ’n groot glimlag en ’n stewige druk begroet – “omdat jy probeer het,” het hy gesê.

Saulus was aktief besig om Christene te straf en te teister (Hand. 9:1-2) toe hy Jesus van aangesig tot aangesig ontmoet op die pad na Damaskus (vv. 3-4). Jesus het hom gekonfronteer met sy sondige dade. Verblind deur die ervaring het Saulus/Paulus ’n Christen nodig gehad – Ananias – om sy sig te herstel in ’n daad wat moed en genade geverg het (vs. 17).

Ek sowel as Saulus het onverwagte genade ontvang.

Die meeste mense besef hulle lewe is in wanorde. Pleks van preke, het hulle hoop op verlossing nodig. Streng gesigte of skerp woorde kan hulle vooruitsig daarop blokkeer. Soos Ananias, of selfs my baas, moet volgelinge van Jesus die gesig van genade word in hierdie lewensveranderende ontmoetings met ander.