“Hoe lank nog voor Kersfees?” Toe my kinders nog klein was het hulle hierdie vraag herhaaldelik gevra. Hoewel ons ’n adventsalmanak gehad het om die dae af te tel tot by Kersfees, was die gewag steeds onuithoudbaar.

Ons kan maklik met ’n kind se stryd om te wag identifiseer. Ons mag dalk die uitdaging wat dit vir al God se mense inhou, onderskat. Dink aan die boodskap van die profeet Miga, wat belowe het dat uit Betlehem ’n regeerder sal kom “en hy sal in Israel regeer.” (5:1) Hy sal “na vore kom en sy volk lei deur die krag wat die Here hom gee” (vs. 3). Die profesie was aanvanklik vervul toe Jesus in Betlehem gebore is (Matt. 2:1) — na die mense sowat 700 jaar gewag het. ’n Deel van die profesie moet nog vervul word, want ons het steeds die verwagting dat Jesus sal terugkeer. Al God se mense “sal woon tot in die uithoeke van die aarde, want hulle leier sal sterk wees” (Miga 5:3) Ons sal verheug wees, want ons lang wag sal oor wees.

Om te wag is moeilik, maar ons kan glo en vertrou dat God Sy belofte gestand sal doen om met ons te wees terwyl ons wag (Matt. 28:20). Want toe Jesus in Betlehem gebore is, het Hy die lewe in oorvloed aangekondig (vgl. Joh. 10:10) – ’n lewe sonder veroordeling. Ons verheug ons in Sy teenwoordigheid terwyl ons gretig wag op op Sy wederkoms.