My pa maak op bestelling uniek-ontwerpte pylekokers, waarin boogskutters hulle pyle hou. Natuurlewe-tonele word ook op die sagte leer uitgedruk voordat die koker finaal aanmekaar gestik word.

Tydens ’n besoek het ek hom eenkeer dopgehou en my verkyk hoe hy baie versigtig ’n skerp lem op die sagte leer vasdruk en rondbeweeg om die verskillende tonele te voorskyn te bring. Aan die einde het hy sy skepping egalig met ’n lap wat in ’n rooi kleurstof gedoop is, gevee en sodoende die prag van sy skepping vergroot.

My pa se handewerk het my laat besef hoe dikwels ek nalaat om my hemelse Vader se kreatiwiteit in ander, en selfs in my, raak te sien. Dit het my laat dink aan Dawid se versekering dat God ons “op ’n wonderbaarlike wyse geskep” het (vs. 14).

Ons kan ons Skepper met oorgawe loof want ons weet Sy werke is uniek. Dit moedig ons aan om ander en onsself, te respekteer, veral as ons daaraan dink dat die Skepper van die heelal, ons ten volle geken en selfs die verloop van ons lewensdae opgeteken het nog voordat ons gebore was (vs. 15, 16).

Soos wat elke stukkie leer in my pa se bekwame hande hanteer is, so is elkeen van ons mooi, waardevol en eiesoortig as deel van God se skepping gevorm. Elkeen van ons is uniek ontwerp om as God se geliefde meesterstukke Sy grootheid te weerspieël.