Baie mense het vir Marilyn tydens haar lang siekbed ondersteun en bemoedig. Sy het gewonder hoe sy hulle goedhartigheid kan vergoed. Maar toe kom sy op die woorde van ’n geskrewe gebed af: “Bid dat ander ’n nederigheid sal ervaar wat hulle sal toelaat om nie net te dien nie, maar ook om bedien te word.” Marilyn het besef dat sy net dankbaar moes wees en ander toelaat om die vreugde van dien te ervaar.

In Filippense 4 spreek Paulus sy waardering uit teenoor almal wat hom in sy nood en moeilike omstandighede bygestaan het (vs. 14). Hy was op hulle ondersteuning aangewese, terwyl hy die evangelie gepreek en onderrig het. Hy het geweet dat die goedhartigheid waarmee hulle hom oorlaai het, eenvoudig ’n verlengstuk van God se liefde vir mense was. “Julle gawe is voor God ’n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig” (vs. 18).

Dit is nie maklik om altyd net te ontvang nie – veral nie as jy gewoonlik die eerste een is wat reg is om ander te help nie. Maar in nederigheid kan ons God toelaat om ons op verskeie maniere te help, wanneer ons hulp nodig het.

Paulus het geskryf: “My God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien” (vs. 19). Dit is iets wat hy tydens ’n leeftyd van beproewinge geleer het. God is getrou en sy voorsienigheid vir ons ken geen perke nie.