My man het onlangs ’n mylpaal-verjaardag gevier, die soort lewensjaar wat met ’n nul eindig. Ek het baie nagedink oor die beste manier waarop ons hom kon eer en bederf. Ons kinders moes ook help met die besluit want dit moes nie net die belangrikheid van die volgende dekade reflekteer nie, maar ook hoe kosbaar hy vir ons gesin is.

Koning Salomo wou graag ’n baie groter geskenk as maar net ’n “groot verjaardagviering” aan God gee. Sy begeerte en wense was dat die tempel wat hy besig was om te bou, God se grootheid en teenwoordigheid waardig sou wees. Ten einde seker te maak van die gehalte van die boumateriaal, het hy in ’n brief aan die koning van Tirus dit uitgespel dat “ons God is die grootste van alle gode” (2 Kron. 2:5). Hy het daarop gewys dat God se grootheid en goedheid alles wat ooit met mensehande gebou kan word, ver oortref. Daarom het hy hierdie taak uit liefde en eer aangepak.

Ons God is voorwaar groter as enige ander god. Hy het al wonderlike dinge in ons lewe gedoen en ons daardeur in ons harte aangespoor om uit liefde kosbare offers aan Hom te bring, ongeag die uiterlike waarde daarvan. Salomo het geweet dat sy geskenk nooit God werklik waardig sou wees nie, maar hy het nogtans sy offer met groot vreugde en blydskap aan Hom gebring; ons kan ook.