Cheung was kwaad vir sy vrou wat vergeet het om die roete na ’n bekende restaurant, waar hulle na hulle vakansie in Japan wou gaan eet, na te gaan. Omdat hulle tyd beperk was, moes hulle toe maar die uiteet los. Cheung was baie gefrustreed en het sy vrou oor haar slegte beplanning gekritiseer.

Cheung het later besef dat hy te kras met sy vrou was, omdat hy self ook maar die roete kon nagegaan het. Daarby het hy ook nagelaat om haar vir die ander dae se goeie beplanning te bedank.

Baie van ons kan seker met Cheung identifiseer. Wanneer ons kwaad word is ons geneig om ons op te blaas en harde woorde te gebruik. Ag hoe smag ons dan nie daarna nie om, soos die psalmdigter te kan bid: “Sit ’n wag voor my mond Here en hou tog wag oor wat ek sê” (Ps. 141:3).

Maar hoe kan ons dit doen? Hier is ’n nuttige wenk: Dink voordat jy praat. Is jou woorde opbouend, aangenaam? (Sien Ef. 4:29-32).

Om ’n wag voor ons mond te plaas, vereis dat ons eers sal stilbly wanneer ons kwaad of geïrriteerd raak en dat ons God se hulp sal vra om ons te lei om die regte woorde te gebruik, of selfs miskien te swyg. Om spraak te beheer is ’n lewenslange taak. Maar in dankbaarheid kan ons weet dat God in ons werk en dat Hy ons gewillig maak om te doen wat Hom behaag - Sy wil uit te voer (Fil. 2:13 ).