As gevolg van verkeerde besluite het Linda in ’n tronk in ’n ander land beland. Sy was ses jaar lank daar aangehou en toe sy vrygelaat is, het sy geen heenkome gehad nie. Terwyl haar familie geld bymekaar maak vir haar kaartjie terug huistoe, het ’n goedhartige paartjie aan haar losies, kos en ’n helpende hand aangebied. Linda was so hierdeur geraak, dat sy gewilliglik geluister het toe hulle die goeie nuus van ’n God wat haar liefhet en haar ’n tweede kans wou gee, met haar deel.Â

Linda herinner my aan Naomi, ’n weduwee in die Bybel, wat haar man en haar twee seuns in ’n vreemde land verloor het en gedink het dat haar lewe verby is (Rut 1). Maar God het haar nie vergeet nie. Deur die liefde van haar skoondogter en die deernis van ’n godvresende man, Boas, het sy God se liefde ervaar en was sy ’n tweede kans gegun (4:13-17).

Dieselfde God gee vandag ook nog vir ons om. Deur die liefde van andere word ons aan Sy teenwoordigheid herinner. Ons kan God se genade in die helpende hande van mense wat ons nie eens ken nie, sien. Daardeur wys God vir ons dat Hy gewillig is om ons met ’n nuwe begin te help. Al wat ons moet doen is om, soos Linda en Naomi, God se hand in ons daaglikse lewe raak te sien en te besef dat Hy nooit ophou om aan ons Sy goedhartigheid te bewys nie.