Ek het nog altyd die humor en insig van die skepper van “Peanuts”, Charles Schulz, geniet. Een van my gunstelingstrokiesprente wat hy geteken het, het verskyn in ’n boek oor jongmense in die kerk. Sy skets beeld ’n jong man uit wat ’n Bybel vashou en vir sy vriend oor die telefoon vertel: “Ek dink ek het die eerste stap gegee om die geheimenisse van die Ou Testament te ontrafel … Ek het dit begin lees! (Teen-Ager is not a disease).

In Psalm 119 brand die skrywer se honger om die krag van God se Woord daagliks te verstaan en te ondervind soos ’n vuur. “Hoe lief het ek u wet! Dit bly my elke oomblik by” (v. 97). Sy ywerige soektog lei daartoe dat hy in wysheid, begrip en gehoorsaamheid aan God toeneem: “U gebooie gee my meer insig … en is altyd by my” (vv. 98-100).

Die Bybel bevat nie ’n formule waarvolgens die geheimenisse tussen sy bladsye ontrafel kan word nie. Dit is eerder ’n verstandelike proses en vereis ’n reaksie op wat ons lees. Hoewel sommige gedeeltes vir ons onbegryplik voorkom, kan ons die dele wat ons duidelik verstaan omhels en vir die Here sê: “Hoe aangenaam is u woord, soeter as heuning in die mond. U bevele gee my insig, daarom haat ek elke verkeerde pad” (vv. 103-104).

Daar wag ’n wonderlike ontdekkingsreis vir ons in God se Woord.