Tydens my besoek aan die Nasionale Galery in Washington DC, het ek ’n meesterstuk: Die Wind, gesien. Die skildery het ’n storm wat deur ’n woud beweeg, uitgebeeld. Lang, dun bome het na die linkerkant oorgehel. Bosse is in dieselfde rigting gelooi.

Die Heilige Gees is in ’n veel kragtiger mate in staat om gelowiges in die rigting van God se goedheid en waarheid te stuur. As ons in pas bly met die Heilige Gees, kan ons verwag om toe te neem in moed en liefde. Danksy ’n skerper onderskeidingsvermoë sal ons ook ons begeertes kan hanteer (2 Tim.1:7).

In sommige situasies du die Gees ons in die rigting van geestelike groei en verandering, maar ons weier volstrek. 1 Tessalonisense 5:19 beskryf die geneigdheid om hierdie oortuiging aanhoudend af te wys as “om die werking van die Heilige Gees teen (te) staan”. Dinge wat ons aanvanklik as verkeerd beskou het, lyk mettertyd glad nie meer so sleg nie.

As dit lyk asof ons verhouding met God veraf en onpersoonlik is, kan dit wees dat ons die Gees keer op keer geïgnoreer het. Hoe langer ons so voortgaan, hoe moeiliker raak dit om die wortel van die probleem raak te sien. Ons kan God egter vra om ons sonde uit te wys. As ons ons bekeer en ons opnuut aan Hom toewy, sal Hy ons vergewe en die krag en invloed van Sy Gees in ons laat herleef.