In die artikel: “Leading by naming,” het Mark Labberton oor die krag van ’n naam geskryf. Ek ervaar steeds die impak van ’n musikale vriend wat my op ’n keer “musikaal” genoem het. Niemand het dít nog van my gesê nie. Ek kan nie regtig ’n instrument bespeel nie. Ek is nie ’n solis nie. Tog ... ek het dadelik geliefd gevoel en ervaar dat hy my kén. Hy het iets van die kern van my wese opgemerk, bevestig en waardeer.
Miskien is dit hoe Simon gevoel het toe Jesus hom ’n nuwe naam gegee het. Andreas was oortuig dat Jesus die Messias is en het sy broer Simon gaan haal en hom na Jesus toe gebring (Joh. 1:41-42). Jesus het in sy siel gekyk en iets wesenliks omtrent Simon bevestig en waardeer. Ja, Jesus het die mislukking en die voortvarende aard gesien wat hom in die moeilikheid sou laat beland. Jesus het egter spesifiek Simon se potensiaal om ’n leier in die kerk te word, raakgesien. Jesus het hom Sefas genoem – Aramees vir Petrus – ’n rots (Joh. 1:42; Matt. 16:18).
Dieselfde geld ons. God sien ons trots, woede en gebrek aan liefde vir mekaar, maar Hy weet ook wie ons in Christus is. Hy sê ons is vrygespreek en versoen (Rom. 5:9-10), vergewe, heilig en geliefd (Kol. 2:13; 3:12), uitverkies en getrou (Op. 17:14). Dink aan hoe God jou sien, en strewe daarna dat dít jou definieer.