Ek het saam met my man in die hospitaal gesit en wag. Ek was angstig omdat ons jong seun korrektiewe oogchirurgie ondergaan het. Ek kon voel hoe die onrus en kommer soos skoenlappers in my maag fladder. Ek het probeer bid en God om Sy vrede gevra. Terwyl ek deur my Bybel blaai, het ek aan Jesaja 40 gedink. Onderwyl ek daarheen geblaai het, het ek gewonder of ek iets vars daarin sou ontdek.

Ek het begin lees en na my asem gesnak. Die woorde wat baie jare tevore geskryf is, het my daaraan herinner dat die Here sy kudde “soos ’n herder versorg: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors” (v. 11). Toe ek besef dat die Here ons vashou, lei en versorg, het my angstigheid oombliklik verdwyn. Dis net wat ek nodig gehad het, Here, het ek saggies gebid. Dit het gevoel asof God se vrede gedurende asook ná die operasie – wat gelukkig goed afgeloop het – om my vou.

Die Here het by monde van die profeet Jesaja Sy volk belowe dat Hy hulle herder sou wees. Hy sou hulle elke dag en in elke situasie en opsig lei en hulle rus gee. Wanneer ons Hom van ons sorge vertel en om Sy liefde en vrede bid, kan ons ook Sy sagte versorging beleef. Ons weet dat Hy ons Goeie Herder is; dat Hy ons styf aan Sy hart druk, en ons in Sy ewige arms dra.