Die middagete-uur saam met my suster en haar kinders het uitgeloop – die driejarige Annica moes klaarmaak om te gaan rus. Sigbaar ontsteld en met trane in haar oë het sy beswaar gemaak: “Maar tannie Monica het my nog nie vandag vasgehou nie!”  My suster het geglimlag. “Goed, sy mag jou eers vashou – vir hoe lank?” “Vyf minute,” het sy geantwoord.

Met my niggie in my arms was ek dankbaar dat sy, sonder om eers te probeer, my aanhoudend herinner aan hoe die liefde, sowel as geliefd wees, lyk. Ons vergeet soms die doel van ons geloofsreis, naamlik om te leer om liefde te ervaar – God se liefde – wat omvangryker is as wat ons ons ooit kan voorstel (Ef. 3:18). Wanneer ons dít uit die oog verloor, kan ons, soos die ouer broer in die verhaal van die verlore seun, desperaat probeer om God se goedkeuring te wen en dít wat Hy ons reeds gegee het, verbeur (Luk. 15:25-32).

Psalm 131 is een van die gebede wat ons kan help om weer “soos kindertjies” te word (Matt. 18:3) en die stryd in ons gedagtes oor die dinge wat ons nie verstaan nie, te laat vaar (Ps. 131:1). In die plek daarvan kan ons, deur tyd saam met Hom deur te bring, teruggaan na ’n plek van vrede (v. 2), en die hoop wat ons nodig het, in Sy liefde verkry (v. 3) – so kalm en stil asof ons weer kinders in ons ma’s se arms is (v. 2).