’n Antieke kleiseël het vyf jaar lank in ’n kas in Jerusalem se Instituut van Argeologie gelê. Die eerste ondersoek na die seël wat aan die voet van die suidelike deel van die Ou Stad se muur in Jerusalem opgegrawe is, kon nie die betekenis van die ongeveer 3,000 jaar oue voorwerp vasstel nie. ’n Navorser wat die inskripsie noukeurig nagegaan het, het ’n reuse ontdekking gemaak. Die woorde, in Hebreeus, lees: “Eiendom van Hiskia [seun] Agas, koning van Juda.”

In die middel van die seël is ’n tweevlerkige son, met twee beelde aan weerskante wat “lewe” simboliseer. Die argeoloë wat die seël ontdek het, glo koning Hiskia het dit begin gebruik as simbool van God se bewaring nadat Hy hom van ’n lewensbedreigende kwaal genees het (Jes. 38:1-8). God het sy pleitrede verhoor en hom ook ’n teken gegee dat Hy volgens Sy belofte sou handel: “Ek sal die son ... tien trappe laat terugskuif” (v. 8).

Die feite rondom hierdie argeologiese artefak bied ’n bemoedigende boodskap aan wat elkeen van ons, nes die mense van die Bybel, moet leer: Roep die Here aan. Hy hoor ons wanneer ons na Hom roep om in te gryp. En al antwoord Hy nie volgens ons begeertes of verwagtinge nie, kan ons verseker weet dat Hy vol medelye en almagtig is. Die Een wat die son se beweging beveel, kan vir seker in ons hart beweeg.