Terwyl ek saam met ’n vriendin ’n maal genuttig het, het sy vertel hoe keelvol sy vir ’n sekere familielid was. Maar sy was huiwerig om met hom te praat oor sy irriterende gewoonte om haar óf te ignoreer óf te bespot. Toe sy hom wel oor die probleem probeer konfronteer, het hy haar met sarkastiese aanmerkings geantwoord. Sy het in woede teenoor hom uitgebars. Beide partye het hul hakskene ingegrawe en die familiekloof is verbreed.

Ek kan myself daarmee vereenselwig, want ek hanteer woede op dieselfde manier. Ek vind dit moeilik om mense te konfronteer. As ’n vriend of familielid iets gemeens sê, onderdruk ek gewoonlik my gevoelens totdat dié persoon of iemand anders weer iets gemeens sê. Ná ’n ruk ontplof ek.

Miskien is dit hoekom die apostel Paulus in Efesiërs 4:26 sê: “As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie.” Om ’n tydsbeperking op onopgeloste kwessies te plaas hou woede in toom. In plaas van die onreg te vertroetel, wat ’n teelaarde vir bitterheid is, kan ons God vra om ons te help om “in liefde by die waarheid [te] bly” (Efesiërs 4:15).

Het jy ’n probleem met iemand? Wend jou na God in plaas van om dit op te krop. Hy kan die vuur van woede met die krag van Sy vergifnis en liefde beveg.